Die Khayelitsha-hospitaal op terrein B het gister nuwe mediese toerusting van die Suid-Afrikaanse Mediese en Opvoedingstigting ontvang. Die Anglikaanse maatskaplike ontwikkelingsprogram Hope Africa is ook betrokke en het ‘n skenking aan die stigting gemaak.
Aartsbiskop Thabo Makgoba van Kaapstad, ‘n lid van die ontwikkelingsprogram, het ook die geleentheid bygewoon.
Die stigting en Hope Africa werk sedert 2007 saam met die hospitaal. Die hospitaal het gister onder meer ‘n lewenstekensmonitor en twee babaweegskale ontvang.
Volgens me. Dianne Pols, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Mediese en Opvoedingstigting, het hulle sedert 2007 toerusting van R500 000 aan die Khayelitsha hospitaal geskenk.
“Ons het ‘n kontrak met die provinsiale gesondheidsdepartement. Hulle sê vir ons waar die behoeftige hospitale is. Ons skakel dan met private maatskappye om ons te borg sodat diê behoeftige hospitale die nodige toerusting kan kry,” het sy gesê.
Pols het gesê hulle versoek ‘n wenslys van die behoeftige hospitale. Sy het bygevoeg dat Hope Africa ‘n gereelde skenker v ir hul stigting is
Makgoba het gesê hy en die Anglikaanse ontwikkelingsprogram is bly as hulle op enige manier iemand kan help.
“Ons wil die mees behoeftiges, wat die minste het, help. Die publiek en maatskappye met die nodige bronne moet eendag net deur die gange van hospitale soos d iê loop en die hartseer toestande sien,” het die aartsbiskop gesê.
“Dit is ‘n wonderlike poging,” het dr. Srini Govender, die gemeenskapsdokter by die Khayelitsha-hospitaal, gesê.